Die NWU se netbalsterre meet hierdie komende Saterdag, 26 Augustus kragte teen die verdedigende Varsity netbalkampioen, Maties.
Op papier beloof hierdie wedstryd, wat ‘n spreekwoordelike herhaling van verlede jaar se eindstryd is, om propvol aksie en drama te wees.
Hierdie twee top spanne is beslis die gunstelinge om die titel vanjaar te lig met elkeen wat vanjaar se toernooi met twee soortgelyke oorwinnings by Wits in Johannesburg begin het. Die NWU het vir die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) met 51-36 geklop en toe vir UJ met 47-43 getroef.

Maties moes ook hard vir ‘n 46-43 oorwinning teen Kovsies veg terwyl hulle vir nuwelinge, Wits met 51- 25 kafgedraf het. Vir die NWU het die hulpdoel, Caitlin du Plessis, die toernooi op die voorvoet begin met ‘n speler van die wedstryd vertoning teen UJ. Du Plessis, ‘n oud-Potch Gimmie, se wisselwerking met Sunel Smit (doel) is een van die span se sterkpunte vanjaar.

Die dames in pers speel ook as ‘n eenheid met Jomari Lubbe op senter sowel as Tlotlang Mokomela op aanvallende vleuel en Keke Molotsi op verdedigende vleuel wat takties sterk in die middel van die baan is. Wat die NWU ook bevoordeel is dat hul op verdediging vir die ervare Martiné Jordaan het wat in haar derde toernooi speel.
Saam met Sanmarie Visser is hulle ‘n gedugte kombinasie wat veral hulle beste spel teen Maties sal moet uithaal. Maties het ook natuurlik as verdedigende kampioene baie ammunisie in hulle arsenaal. Chrisley Marshall (hulpdoel), Kerrin de Nobrega (aanvallende vleuel), Danielle van Nieuwenhuizen (hulpdoel verdediger) en Nerine Koopman (aanvallende vleuel) is van Maties se gevaarlikste spelers. Die NWU en Maties gaan ook vir die eerste keer by die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus teen mekaar speel. Die wedstryd begin om 19:00.

NWU se hoofafrigter, Elsunet du Plessis noem dat die span as ‘n eenheid in die eerste twee wedstryde gespeel het. Sy voel wel dat daar steeds op paar aspekte aandag gegee moet word.
“Met albei wedstryde dink ek het ons regtig baie goed begin. Die span het met baie beheer gespeel. Ek dink ons besluitneming kan verbeter sowel as ons akkuraatheid in die doelsirkel,” sê Du Plessis.
Die NWU speel ook hierdie naweek op Sondag, 27 Augustus teen Wits om 17:00, voordat hulle hul intervarsity teenstanders, Kovsies, op Maandag, 28 Augustus om 15:00 aanvat.
Indien die NWU al drie wedstryde wen sal hulle goed op dreef wees om die half-eindstryde in vanjaar se kompetisie te haal.



