Klerksdorp Hoërskool het Saterdag bo alle verwagtinge die onoorwonne Transvalia met 26 -10 geklop.
KHS was weer op hulle tuisveld en het bewys dat jy nie sommer na Klerksdorp toe kom en wen nie. Die Klerksdorpers is in vanjaar se Noordvaal plaat afdeling onoorwonne op hulle tuisveld.
Volgens Leon Bevan, bemarker van die skool, is die span in hulle noppies op die skoon tuis rekord en om die voorlopers in die liga te kon klop.
“Dit was ‘n klipharde wedstryd. Ons het hulle fisies aangevat en gedomineer waarvoor hulle nie eintlik antwoorde gehad het nie. Daar is ‘n paar individuele spelers wat werklik die wedstryd van hulle lewens gespeel het,” het Bevan gesê.
KHS se volgende wedstryd is teen Montana, maar dit is ‘n weg wedstryd.
“Ons kan terugkyk op ‘n puik seisoen waar niemand ons op tuisbodem in die Noordvaal plaat afdeling geklop het nie,” het Bevan gesê.