Die voorloper span in die Noordvaal skild afdeling het die afgelope naweek bietjie geskrik tydens hulel wedstryd teen Secunda.
Die Klerksdorpers was vinnig uit die blokke uit en het vroeg in die wedstryd gaan punte aanteken. Ongelukkig saam met die vinnige begin het hulle twee beserings binne die eerste kwart van die wedstryd opgedoen. Dit het die Bruin Bere se spoed bietjie gekelder.
Wesvalia het steeds met durf aangeval maar Secunda se verdediging was op die dag besonders goed gewees. Met verdedigingsdruk kon Secunda self ook punte op die bord sit. Met tyd amper verstreke kry Secunda ‘n strafskop voor die pale. hulle maak nie ‘n fout nie, met net genoeg tyd vir die afskop is die telling 29 – 31. Toeskouers staan op, maak reg om huis toe te gaan. Die wedstryd is verby.
Die bruin bere skop af, Secunda vang die bal. Daar blaas die fluitjie, almal verwag dat dit die eindfluitjie is, maar die klink anders. Strafskop! Secunda word gestraf vir obstruksie.
Die speler wat die balvanger in die lug opgetel het, draai en keer dat die baldraer nie gelak kan word nie. Wesvalia se heelagter, Rickardt van Heerden stel op vir die skop. Dit is volgens sy standaarde nie moeilik nie, maar die druk van die hele pawiljoen is op hom. Die stilte kan tot in Secunda gehoor word. Die geluid van voet teen bal soos hy dit tref. En dan die gejuig, die skare kan ook tot in Secunda gehoor word.
Wesvalia wen die wedstryd 32 -31, om onoorwonne te bly.
“Ons het geweet dit gaan moeilik wees, aangesien hulle moes veg vir ‘n plek in die halfeindstryd. Hulle verdediging was baie goed wat ons onder baie druk geplaas het. Ek was benoud met tye maar trots op die spelers wat nooit ophou baklei het nie. Die gees wat die spelers gewys het, het ons deur getrek,” het Willem van der Sandt, hoofafrigter van Wesvalia gese.
Wesvalia speel Donderdag teen die Anker in die laaste rondomtalie wedstryd.