Die Noordvaal Virsekerbeker Bowl-trofee sowel as promosie na die Skild-afdeling wag vir Potchefstroom Gimnasium hierdie Saterdag, 15 Augustus.
Gimmies se eerste rugbyspan gaan Hoërskool Centurion in die Bowl-eindstryd op laasgenoemde se tuisveld aanvat en het die geleentheid om die trofee vir die eerste keer te verower.
Dit gaan nie maklik vir Gimmies wees nie, met talle rugbykenners wat glo dat die onoorwonne Centurion, as die voorlopers in vanjaar se eerstespanafdeling, die gunsteling is.

Gimmies is algeheel as skool in die voorste posisie vir promosie met 235,5 punte.
As Gimmies hul wedstryd wen, sal hulle na die Skild-afdeling beweeg. ’n Ander scenario waar Gimmies ook sal opskuif, is indien Ermelo (227 punte) se o14A en o15A-spanne hul eindstryde verloor.
As Ermelo wen en Gimmies verloor, sal Ermelo na die Skild-afdeling beweeg. Sodoende is daar baie op die spel hierdie naweek – iets waarvan Gimmies deeglik bewus is.
Die Potchefstromers is ook heel gemaklik om die underdog-trui hierdie naweek te dra en hoop dat hulle, nes Dawid, vir ’n verrassing kan sorg.

Gimmies se eerstespan-rugbyafrigter, JR Jackson, weet dat daar ’n groot taak voorlê vir sy span.
“Centurion se sterk punte is beslis hul lynstane en hul teenaanval. Ons gaan fokus op ons verdediging. As ons goed genoeg kan tackle en hulle vasdruk in die hoeke, kan ons hulle onder druk sit. Dit is belangrik om nie onnodig balle weg te skop nie,” noem hy.
Volgens Jackson is Gimmies se sterkpunte hul veggees en dat hulle nie opgee nie.
“As hierdie groep seuns se rûe teen die muur is, kom hul naels uit en wil hulle baklei. Die manne het die laaste drie weke begin glo en saamstaan en is bereid om tot die einde te veg. Ons wil ons vaste fasette so goed as moontlik uitvoer en balbesit behou. In ’n finaal gaan enigiets gebeur. Die span wat koelkop bly en by hul wedstrydplan sal hou. ’n Finaal is nooit maklik nie en dit is wat dit meer die moeite werd maak.”
Gimmies moes alreeds diep delf in hul halfeindstryd verlede naweek teen Midstream College, wat hulle met 13-6 gewen het. Hier was die kaptein, De Wet Grobler, ongelooflik vir sy span en het ook ’n drie gedruk. Zandré Da Silva het ook sy skopskoene aangehad met ‘n doelskop en twee strafdoele.
“Ons sien baie uit. Ons is baie opgewonde om in die eindstryd te speel.”
“Dit is nou tyd om te wys wat in ons steek. Om as ’n span die trofee te lig, sal ’n hoogtepunt wees,” noem Grobler.
Volkies het amper vir ’n opskudding gesorg toe hulle amper as verdedigende kampioene vir Woeries in Centurion geklop het. Centurion het in die laaste nippertjie vir Volkies met 26-17 geklop.
“Dit sou lekker wees om weer Volkies in die eindstryd te kry en nog ’n derby te speel, maar nou is ons fokus op Centurion. Ons gaan gereed wees vir hulle,” beaam Grobler.
’n Hele seisoen se bloed, sweet en trane kan hierdie Saterdag in glorie vir Gimmies eindig. Dit is nou alles in die eerstespan se hande.



