FeaturesLifestyleLocal newsNewsPeople

Haar toewyding sorg vir ‘n gelukkige einde

"Ek is baie bevoorreg om só 'n ouma te hê." Damien kyk na haar en glimlag. "Daar is mense wat baie meer welaf as ons is wat nie al die geleenthede in die lewe gekry het wat ek al gekry het nie."

MBOMBELA – Hulle storie het hard aan die stad se inwoners se hartsnare gepluk. Sy en haar rose is al deel van Spur se meublement. Hy het dié jaar saam met demokrasie in Suid-Afrika 20 geword.

Tina Kuhn is oral op die dorp bekend as die tannie wat rose in restaurante verkoop. Die diep plooie op haar gesig vertel die storie van swaarkry en harde werk tot die vroeë oggendure. Baie het al die vrymoedigheid gehad om vir haar te vra waarom sy dit doen. “Om my kleinseun groot te maak,” sou haar trotse antwoord wees. Selfbejammering het nie by háár’n tuiste nie.

Haar seun, Tobiah, het nét so voor die einde van apartheid, ‘n verhouding met ‘n plaaswerker aangeknoop. Klein Damien is in 1994 hieruit gebore.

Toe Tobiah 19 jaar gelede vermoor is, kon sy ma nie vir Damien sorg nie. Dis toe dat hy by sy ouma gaan bly het.

Vandag is Damien ‘n 20-jarige fisioterapiestudent aan die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa) se kampus in Pretoria. Hy het ‘n beurs gekry wat sy klas- en koshuisgelde betaal.

Hy het eers chemiese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom studeer, maar het van rigting verander omdat hy “baie graag met mense wou werk”.

Hy het toe sy eerste jaar in Potch klaar gemaak en aan die begin van dié jaar Pretoria toe getrek.

Dié saggesproke jongman met die aansteeklike glimlag is ‘n kranige sportman en toring bo sy ouma uit. “Ek het nog net drie jaar se studies oor dan is dit my beurt om na my ouma te kyk.”

Ná sy studies moet Damien eers ‘n gemeenskapsjaar voltooi voordat sy ouma by hom kan intrek. “Dit sal lekker wees as sy by my kan kom bly.

“Ek sal eers ‘n bietjie oorsee wil gaan, dalk op skepe werk om geld te maak, maar ek sal terugkom en hier bly. Mbombela is ‘n pragtige plek en daar is nie nog só ‘n plek in Suid-Afrika nie. Dié is my huis.”

Hy sien sy ma, Idah Mdlovo, nog gereeld maar erken die taal-uitdaging raak somtyds ‘n probleem. “Sy kan baie min Afrikaans of Engels praat.

“Sy is Zoeloe en ek kan ongelukkig nie die taal praat nie.”

Tina was, en is nog steeds, ‘n eiendomsagent, maar die roosverkopery het die nodige ekstra geldjies ingebring. “Ons het altyd ‘n dak oor ons kop gehad en nooit gesukkel nie,” sê sy.

“Ek is baie bevoorreg om só ‘n ouma te hê.” Damien kyk na haar en glimlag. “Daar is mense wat baie meer welaf as ons is wat nie al die geleenthede in die lewe gekry het wat ek al gekry het nie.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button