Meer as palmlesery: Kevin Leak se wetenskap van hande
Die lyne op ’n persoon se hand bepaal nie sy lewenslot nie, maar bied eerder insig in sy emosionele toestand, karakter, gedragspatrone en potensiaal.
Laevelder sit in Kevin Leak se kantoor op Kaapsehoop.
Die magdom boeke, die enkele kers wat brand, die goud-geraamde spieël hoog bo teen die muur en al die kleurvolle dasse wat hy deur die jare gedra het, netjies gevleg in ‘n geraamde tapisserie, laat die atmosfeer hier in sy kantoor alles behalwe misterieus voel.
Daar is geen kristalbal hier nie. In sy kantoor is net rustigheid, met kennis wat tasbaar teenwoordig is en sy jare se navorsing wat boekdele spreek.
LEES OOK: Bordjies teen die muur in Kaapsehoop-gastehuis vertel ‘n duisend stories
Leak (60), wat net so nou en dan oor sy grysbaard met sy hand streel, is ook ‘n oud-Nelspruiter.
Hy vertel nie jou lewenslot nie.
Hy sit nie voor ‘n kristalbal en gryp na ‘grashalms’ in die wind nie. Met net jou palmafdrukke in ink en sy vergrootglas, verskaf hy antwoorde op ‘n persoon se emosionele toestand, karakter, gedragspatrone en potensiaal.
Hy doen dit met pynlike noukeurigheid ná 20 jaar se ondervinding in die veld van psigodiagnotiese chirologie.

Wie is Kevin Leak?
“Ek het regte gaan studeer, want ek het gedink ek sal die wêreld kan verander. Toe besluit ek op politiek en behaal my honneursgrade in staatsleer en sielkunde aan Unisa,” vertel Leak.
Hy was 12 jaar in diens van die Departement van Korrektiewe Dienste, waar hy die adjunkdirekteur van navorsing was en met gevangenes gewerk het wat op die doodstraf wag.

Hy het op die raad van Life-Line in Pretoria gedien en was nou betrokke by die opleiding van beraders.
Hy het ook as berader by verskeie skole, onder andere by Port Natal skool in Durban, gedien.
“Waar ‘n kind ses sessies met ‘n sielkundige nodig het, het ek met chirologie slegs die afdrukke van ‘n kind se hand nodig om te sien waar die probleem lê, hetsy dit ‘n ouerprobleem of emosionele probleem is.”
Tydens sy jare by korrektiewe dienste, duik talle staaltjies op waar groot name van die destydse regering sy paaie gekruis het. Van bekende brigadiers, generaals en kommissarisse tot selfs die naam van Adrian Vlok, destydse minister van wet en orde, verskyn in sy vertellings.
LEES OOK: Poësienaweek in die berg: ’n Digterlike belewenis om te onthou
Hy het sy vrou, Leandra, tydens daardie tydperk as bewaarder ontmoet. “‘n Vreemde toeval,” vertel hy, “die dag toe ons ouers laat ontmoet het in Durban, het ons met verbasing besef dat ons beide – net twee jaar uitmekaar – in dieselfde hospitaal in Witbank deur dieselfde dokter in die lewe gehelp is.”
Leandra is vier jaar gelede oorlede. Uit die huwelik is twee seuns, onderskeidelik 30 en 27, gebore.
Hy het eendag ‘n chirologie werkswinkel bygewoon en aangebied dat hulle sy hande kon gebruik vir inkafdrukke as ‘n voorbeeld.
En hier kon hy, 23 jaar gelede, homself vereenselwig en het hy daarna met sy eerste kursus begin. Só eindig hy na al die uitdagings en omswerwinge in Kaapsehoop en praktiseer nou reeds vier jaar voltyds chirologie.
Tong in die kies vertel hy dat ‘n persoon in ‘n gemaksone moet wees in jou lewe.
“Ek moet 30 km van ‘n KFC woon.” Ironies staan sy webjoernaal dan ook bekend as KFC – Kevin’s Fascinating Chirology.
“Ek is konserwatief. Jy moet weet ek het my eerste meisie hier in Nelspruit gelos oor sy nie ‘n hoed kerk toe gedra het nie.”
Met meer as 10 600 handafdrukke beskik hy oor een van die grootste private versamelings van handafdrukke in die wêreld wat hom in staat stel om navorsing te doen oor sielkundige opvoedkunde en menslike ontwikkelingsaspekte.
LEES OOK: Kaapsehoop-pad ‘n lus vir die oog danksy vrywilligers
Verskeie artikels is al oor Leak gepubliseer en hy het selfs al die hande van presidente soos Barack Obama en Jacob Zuma, asook verskeie ander politici en openbare figure, ontleed.
Wat is chirologie?
Chirologie (handkunde) is afgelei van die Griekse woorde cheir (hand) en logia (studie van), en is ook bekend as biometriese definisies van persoonlikheid.
“Enige iets wat ek openbaar oor jou hande, en jy vra my waar sien jy dit, en ek sê ek weet nie, dan is ek besig om palms te lees. Al die inligting wat ek vir jou gee, kan ek rugsteun deur navorsing wat tot ons beskikking is,” vertel Leak.
The Illustrated Textbook of Psychodiagnostic Chirology in Analysis and Therapy, deur psigiater Arnold Holtzman, lê trots op die hoek van sy bruin lessenaar.
“Holtzman het begin met vingerafdruknavorsing wat geneties is en op grond van verskillende diagnostiese tipes van verskillende mense, is persoonseienskappe saamgevat en 93% van sy diagnoses was akkuraat.”
Daar is luidens Leak 1 073 741 824 vingerafdrukvariasies in die wêreld.
Daar is vier aspekte op die hand wat permanent is en wat elk ‘n deel van die menslike psige verteenwoordig:
• Die vorm van die hand – persoonlikheidstipe;
• Vingerafdrukpatrone – karaktereienskappe;
• Vorm van die naels – temperament; en
• Die patrone wat op die palms voorkom – spesifieke talente.

Hierdie inligting, luidens Leak, verskaf ‘n akkurate en omvattende geheel van die totale wese van die individu – sonder die gebruik van vraelyste of onderhoude. Inkafdrukke van die handpalms is al wat benodig word.
En as jy gedink het die ‘padkaart’ op jou hande is verewig, dink weer.
“Daar is aspekte op die hande wat voortdurend verander. Dit sluit die lyne, buigings van die vingers, kleur van sekere gedeeltes op die palms en ander aspekte in. Die veranderende aspekte op die hande verskaf betroubare inligting ten opsigte van die individu se huidige fisiese gesondheid asook emosionele gemoedstoestand.”
Jou hande is nie ‘n kristalbal nie
“Jou regterhand (as jy regshandig is) is dit wat jy openbaar; dit is die nou en dit wat mense sien. Jou linkerhand (jou nie-dominante hand) is jou privaat lewe en jou onderbewuste en wys wie jy was toe jy die wêreld ingekom het. Dus is die linkerhand wie jy is as jy die wêreld inkom en die regterhand dit wat jy daarmee doen,” vertel hy.
Hoekom sal jy Kevin Leak besoek vir ‘n ontleding van jou hande?
“As ek jou inkafdrukke het, hoef jy jou mond verder oop te maak nie,” sê hy. “Ek verduidelik alles op grond van jou vingerafdrukke, wat genetiese merkers is, en die inligting is op navorsing gegrond. Jy moet weet wat jy natuurlik is en wat jou verhinder om ’n kwaliteit lewe te lei, emosioneel en geestelik – wat jou terughou en keer om vorentoe te beweeg. Die verslag is sowat 57 bladsye.”

In sy verslag identifiseer hy sekere aspekte en gee dan leiding. Sy benadering is om jou potensiaal uit te wys en die nodige middele te bied om dit te bereik.
LEES OOK: VIDEO: ’n Boere-opskop op Kaapsehoop saam met die Potgieters se tweede huweliksbevestiging
Getuienis
Tydens Laevelder se besoek aan Leak het een van sy kliënte, Susan Mottram, die volgende gesê:
“Ek is absoluut gefassineer wat hy aan my vertel het oor die lyne op my hande. Hy het vir my goed vertel wat net ek van myself weet en vind hom absoluut outentiek. Ek was uit die veld geslaan. Ek het daar ingestap as ‘n totale vreemdeling. Daar is geen kans dat hy my so goed kon opsom nie – dit was ‘n ongelooflikke ervaring.”

*Laevelder se Bertus de Bruyn het self sy twee hande in ink laat verf ná sy onderhoud en het sy stewige en uiters professionele, persoonlike verslag in 57 folio’s via e-pos, sowat vier dae na sy besoek, terug ontvang. Die afdrukke toon hy besit vingerafdrukke wat slegs 2% van die wêreld se bevolking oor beskik. “Ek het nie woorde nie, maar antwoorde op vrae, gebeure uit my verlede en doelgerigte leiding vir die pad vorentoe. Ek kan kategories hier sê dat dit nie palmlesery of ‘n toekomsvoorpelling is nie. Ek is oortuig daarvan dat as ek my verslag vir my boesemvriende moet gee om te lees, hulle alles sal kan beaam wat Kevin se studie van my hande blootlê. Ek is bereid om voor’n jurie te staan vir kritiek wat moontlik hieruit kan spruit. Ek is uit die veld geslaan met sy verslag en kan met alle oortuiging sê dat Leak se studie op my palms akkuraat was.”
Lees meer hier oor Chirologie

