Local news

Afgetrede balju skenk 35 jaar se koerantspensbagasie aan Laevelder

Dit was swaar om afskeid te neem van sy versameling, maar Henry Myers is nou tevrede.

“Ek is bly ek het dit geskenk – ek voel ek het ‘n aandeel en is nou deel van Laevelder.”

So vertel Henry Myers, pas afgetrede balju van Witrivier, wat ná ‘n lang oorweging byna 35 jaar se Laevelder-koerante – wat hy aanvanklik as ‘n verwysingsraamwerk gestoor het – en later sy stokperdjie geword, aan Laevelder geskenk het en nou veilig in die argiewe van Laeveld Media pronk.

Henry Myers.

Ons stap terug van die fabriek nadat ons hom op ‘n toer geneem het om die drukproses te wys en ook presies en sekuur sy ou koerante nou in elke jaargetal vir bewaring verbind word – natuurlik met sy naam op as skenking.

Henry Myers en Monya Burger.

Myers lyk trots en verbaas!

“Ek het dit nie verwag nie – ek het gedink dis net so ou klein plekkie waar dit gedruk word – ek is verstom. Waaraan ek my die meeste vergaap het, is dat al die advertensies saam gebind word, ek dog dis net die koerant. Julle voel erg oor julle koerante soos ek, want ek is heilig op my koerante,” vertel hy.

Oud en stoere Laevelder

Maar voor ons by die koerante uitkom, wou ons weet wie Myers is. Hy is in 1960 in Witrivier gebore en getoë.

Hy het eers by Laerskool Witrivier skoolgegaan en later het hy by Hoërskool Rob Ferreira gematrikuleer.

“Ná skool was ek vir twee jaar weermag toe. Daarna het ek teruggekeer en by die tabakkoöperasie LTK in Nelspruit begin werk. Daarna het ek het by Jumbo Spares se onderdeel-afdeling gewerk en toe is ek na ‘n ander onderdeelafdeling by Dresser Komatsu,” sê hy.

Die geregsgogga begin byt en sy pa, ‘n geregsbode, nooi Henry uit om in 1988 vir hom te gaan werk. Sy pa is egter kort daarna in 1990 oorlede.

Myers word op 1 September 1990 as balju aangestel – en dis dan ook presies die jaar dat die groot Laevelder-spensversameling sou afskop wat oor amper 35 jaar strek.

Terug by Myers. Geregsbode – ‘n mooi beskrywing.

“Dit is die ou benaming van die adjunkbalju van die hooggeregshof. Die geregsbode was die landdroshof en hulle het dit ook die bode van die hof genoem. In 1990/91 is die hooggeregshof en die landroshowe in die distrikte saamgevoeg, toe word ek die balju van die hooggeregshof en die landdroshof.”

Myers is in 1989 met Suzette getroud, self ‘n oud-Laevelder van Kaapsehoop.

Die egpaar het twee seuns. William, ‘n elektriese ingenieur en Hein, ‘n vryskutnatuurgids wat die wêreld rondreis.

Monya Burger saam met Henry en Suzette Myers.

Die egpaar spog ook met twee kleinkinders, Bailey en Mina.

Hard gemoker met ‘n silwer stiletto

Myers gesels lekker oor sy 35 jaar as balju en van die snaakse insidente wat hy goed onthou.

“Kyk, as daar een staaltjie is wat dadelik uitstaan, is toe ek ‘n lasbrief by ‘n persoon se huis in Witrivier moes gaan uitreik. Die vrou se man was nie tuis nie en sy was alleen. Die oomblik toe ek klaar verduidelik het wat aangaan en ek die inventaris invul waarop ek beslag moet neem, toe hoor ek sy kom in die gang af.

“Die volgende oomblik toe moker sy met so ‘n hoë hoëhakskoen, dat ek net sterre sien. En sy hou nie op nie. Ek is naderhand by die deur uit – maar sy slaan vir my.

“Sy moes seker maar iets doen dat ek nie haar goed vat nie en wou dit red. Ek dink haar man moes baie trots op haar gewees het. Haar man het later opgedaag en haar gekalmeer en verduidelik dat dit net ‘n inventaris was en dat hulle nog niks gaan vat nie. Ek sal dit nooit vergeet nie. Daardie silwer skoen met die ellelange hak.”

Die liefde vir Laevelder in die spens?

Myers vertel dat die versameling aanvanklik slegs vir werkdoeleindes was.

“Weet jy, ek dink ek het dit vir my beroep as balju begin bymekaarmaak, want die eksekusie van veilingadvertensies was in die koerante.”

LEES OOK: Oud-elektrisiën van Mbombela skenk boks geskiedenis

En so het hy vanaf 1 September 1990 sy data begin opbou en versamel.

“As iemand destyds vir my gesê het iets was nie reg geadverteer nie, kon ek my Laevelder uithaal en sê, maar kyk hier staan dit dan.”

En dit het vinnig in ‘n stokperdjie ontaard.

Maar dit gaar ook nie net stof op nie en so nou en dan het hy maar weer van die ou koerante afgestof en gelees.

Ons kyk juis na die eerste koerant van sy versameling – dié van 1 September 1990 – en een advertensie wat hom opval, is ‘n eenmanwoonstel in Witrivier vir slegs R500 per maand!

“Ja,” sê hy, “jy sal dit nooit weer kry nie.”

Hoekom die spensbiblioteek?

Die ou Calvary Ensemble Kerk was destyds te koop, aangesien hulle ‘n groter kerk wou bou. Myers het die gebou aangeskaf en dit in kantore omskep.

Hy het die ou moederskamer as sy kantoor ingerig.

Een van die vertrekke was ‘n spens en ek het gedink dit sal ideaal vir sy koerante wees.

“Ek het hulle daar gepak. Daar was net koffie, tee en suiker in, so daar was nie baie in- en uitlopery by my koerante nie.”

En dis baie koerante as mens dit in ag neem dat daar sedert 1990 twee uitgawes per week was wat op 100 per jaar beloop het.

“Maar na Covid was dit slegs een per week – maar nog steeds was dit is ‘n magdom koerante.”

LEES OOK: Nee, dit is níé die einde van koerante nie, al val die inkdrom soms om

Daar is nie ‘n spesifieke storie wat oor die jare uitstaan nie – maar wat wel vir hom heilig is, is die feit dat sy twee seuns in die koerant pryk met al hulle skool- en sportprestasies waar hulle in hokkie en skyfskiet uitgeblink het.

Vir Myers is daar ook ‘n nuwe stokperdjie, ‘n kettieklub wat hy in Witrivier begin het, waaroor daar binnekort berig sal word.

Hoekom die koerante aan Laevelder skenk?

Toe die aftreedatum vir Myers wink, was hy in twee geskeur, gaan hy die koerante hou of gaan hy dit weggee?

“Toe die tyd kom dat ek op 65 moet aftree, toe dink ek, ek moet die kantore uitverhuur en die koerante moet getrek word. Dis is baie en ek is bang dit word beskadig.

“Ek het toe vir Monya Burger van julle fabriek geskakel. Sy het gesê julle stel belang – maar toe kry ek weer koue voete.”

Na lang oorweging het hy ingegee en besluit om die koerante aan Laevelder te skenk.

Dit is onlangs deur Ferdi Aveling van Laevelder gaan optel en is tans besig om in die fabriek in bundels verewig te word.

Daai geluid wat koerante maak …

Myers is oortuig koerante sal nie uitsterf nie.

“Ek glo nie koerante in sy gedrukte weergawe sal uitsterf nie. ‘n Mens kan alles op die internet lees, maar niks is so lekker op ‘n Sondagmiddag of Donderdag as jy deur jou Laevelder sit en blaai nie – daai geluid wat hy maak – dis net uniek. Nie almal wil die nuus digitaal lees nie of het toegang om dit te kan doen nie.”

En tong in die kies – maar baie ernstig sê hy: “Die ding wat mense moet besef is dat koerante ook baie ander gebruike het. Jy kan avokado’s daarin toedraai om ryp te word en vensters daarmee was. Dit kan ook gebruik word om jou breekware toe te draai as jy trek en jy kan ook vuur daarmee maak. Kan jy dit alles met digitaal doen?”

Hoe voel hy oor digitale nuus?

“Ek is ‘n volgeling op Laevelder se sosiale media, maar dit stop my nie om my koerant te koop nie. Ek wil die gebeure in diepte lees. Ek glo aan my Laevelder. Ek is ‘n oud-Laevelder, ek sal nie aanlynnuus per se gaan lees nie – maar as daar nou iets gebeur, weet ek ek kan gou kyk wat Laevelder op Facebook en sy webstuiste berig.”

LEES OOK: Volstoom voort vir Laeveld Media se digitale span in 2025

Hoe gaan gedrukte media van nou tot oor vyf jaar lyk?

Vasbeslote antwoord hy: “Hy sal aangaan.”

Myers vertel voorts dat die land se balju’s nou ‘n probleem op hande het.

“As jy staatseiendom verkoop, sê die wet dit moet in die Staatskoerant en in ‘n ander koerant wat in die distrik sirkuleer, geplaas word. Die wet het nog nie verander dat dit digitaal geadverteer mag word nie – so al daai goed speel ‘n groot rol.”

En was daar een groot storie wat hoofstroomlyn in Suid-Afrika was?

Sonder om te dink – in ware Springbok-gees sê hy trots en hard: “Rugbywêreldbeker 1995.”

Hoe wil hy onthou word?

Myers raak ‘n rukkie stil, maak keel skoon, sit vorentoe en sê: “Ek dink regtig eerstens sal ek wil hê hulle moet my onthou as ‘n kind van die Here. Tweedens, dat ek my werk na die beste van my vermoëns probeer doen het, ek het foute gemaak, daar is mense wat nie van my hou nie en daar is mense wat van my hou, dit sal ‘n mens altyd kry. Ek het altyd met simpatie en empatie opgetree, en nie mense in die situasie waarin hulle was geoordeel nie.”


Koerant-afskeid – swaar, maar opgewonde

Vir Myers was dit moeilik, maar hy is meer as gerusgestel nou dat hy die proses van die bybels kon sien.

“Dit was swaar – tot ek gehoor en gesien het wat julle daarmee gaan doen, nou weet ek dis bewaar. Ek is bly ek is nou deel van Laevelder en ek voel ek het nou hier ‘n aandeel – my naam is pryk op die koerante as die skenker.”

Daar is ‘n gewyde stilte. “Jy weet my oupa het jare gelede die koerant in sy posbus gekry – hy was so opgerol met ‘n toutjie om. Later jare het seuntjies dit op fietse op die grasperke geslinger. Vandag het my oë oopgegaan.”

Geniet jou aftrede, Henry, dankie vir jou balju-spensbagasie bladsy vir bladsy – dis meer as 30 jaar se Laevelder onthou.

LEES OOK: Mbombela Biblioteek ’n ‘stiefkind’ vol historiese juwele

“Dankie, ek gaan, jy moet hulle waarsku ek gaan Donderdag al die koerante met my artikel koop om vir my familie te stuur – julle kan dit weer later kom wegry.”

Hulle sê mens word weer mens wanneer jy aftree…

Mens Henry, begin dink waar jy die uitgawe van 21 Augustus 2025 gaan bêre en met jou nuwe versameling begin!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button