SportSport

Classic Clash in foto’s: Gimmies en Volkies bring die gees tydens derby

Op papier het Gimmies 'n wenpersentasie van 78,5% behaal regoor al die 2026 Classic Clash wedstryde oor die naweek behaal.

Al het Potchefstroom Gimnasium se netbal, hokkie en rugbyspanne 22 uit 28 wedstryde gewen en op papier suksesvol was, lê die werklike sukses in die goeie gees wat deurlopend teenwoordig was vanaf 22-23 Mei by Volkies tussen dié twee skole.

As daar na die algehele uitslae gekyk word het Gimmies al die dogtershokkiewedstryde gewen, twee rugbywedstryde verloor en een gelykop gespeel. Gimmies was ook doeltreffend op die netbalbaan en het een netbalwedstryd verloor en die eerstespanwedstryd 30-30 gelykop gespeel. Die seunshokkie eerstespanne het ook 2-2 gelykop gespeel.

Foto’s: Tian du Preez

Vir Volkies was dit betekenisvol om net een eerstespanwedstryd te verloor, terwyl twee gelykop was en die groot rugbystryd tussen die eerstespanne te wen.

Albei skole het veggees gewys en in intense wedstryde nie teruggestaan nie. Al die eerstespan wedstryde was baie naby taai vir elke skool met geen wegholoorwinnings nie.

Foto’s: Wouter Pienaar

Volgens mnr. Michael van der Merwe, skoolhoof van Potchefstroom Gimnasium, was die sportderby ’n uitstekende weerspieëling van albei skole se visie vir ’n gesonde kragmeting.

“Ek is baie trots op almal wat ondersteun het en betrokke was. Dit sluit spelers, ouers, beheerliggame, personeel, organiseerders en alumni in. Ons is baie dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning. Dit was voorwaar ’n wonderlike geleentheid. Potchefstroom Gimnasium wil ook vir Volkies gelukwens met die aanbieding van ’n suksesvolle tuisderby aan hulle kant,” noem hy.

Volgens Van der Merwe is tennis en krieket ook vir die eerste keer bygevoeg, wat verdere waarde tot die geleentheid toegevoeg het. Hy het ook klem gelê op die goed georganiseerde Old Boys-rugbywedstryd.

“Die skool is baie trots daarop dat Potchefstroom Gimnasium volgende jaar 120 jaar oud word. Die skool het ook die voorreg om die interhoër-atletiekbyeenkoms aan te bied, sowel as die tuisderby teen Volkies. Ons sien daarna uit om hulle aan hierdie kant van die dorp te verwelkom om weer kragte te meet.”

Van der Merwe beaam verder dat daar ’n baie positiewe verhouding en goeie verstandhouding tussen hom en die skoolhoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, mnr. PW van Aswegen, bestaan.

“Ons werk goed saam en deel dieselfde visie: dat ’n gesonde derby en ’n gesonde kragmeting tot voordeel van die hele Potchefstroom en ook Noordwes is. Ons het vandag reeds weer saam koffie gedrink en lekker gesels oor hoe ons volgende jaar die geleentheid nóg beter kan maak. Dit is iets waarop ons jaar ná jaar wil voortbou, solank ons kan.”

“Ons hier by Hoër Volkskool Potchefstroom wil graag vir Potchefstroom Gimnasium gelukwens met ‘n skitterende interskoleweek. Welgedaan en baie geluk met julle pragtige uitslae. Vir elke Volkie, oud en jonk, alumni, ouer, borg, toekomstige Volkie, BL-lid, personeellid, afrigter, ondersteuner en terreinwerker wil ek uit die diepte van my hart dankie sê. Dankie dat julle die karakter van Volkskool raaksien,” noem mnr. PW van Aswegen, skoolhoof van Hoër Volkskool Potchefstroom.

“In Matteus 6:21 staan daar: “Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Ons skatte is ons kinders, hulle wenne, hulle verlore, hulle groei en hulle karakter. Dit is hoekom ons Volkie-harte oorloop van dankbaarheid en nederigheid.
In God gebonde leef ons elke dag, want ons weet dat alles wat ons doen, tot eer van die Here is – meer van U en minder van myself.”

Foto’s: Tian du Preez

Eerstespan uitslae:

Dogtershokkie: Gimmies 4 – Volkies 1

Seunshokkie: Gimmie 2 – Volkies 2

Netbal: Gimmies 30 – Volkies 30

Rugby: Volkies 34 – Gimmies 26

Uitgebreide uitslae

Dogtershokkie:

o14A: Gimmies wen 10–0

o15A: Gimmies wen 7–0

o16A: Gimmies wen 2–0

Tweedespan: Gimmies wen 6–0

Seunshokkie:

o14A: Gimmies wen 5–1

o16A: Gimmies wen 1–0

Tweedespan: Gimmies wen 4-0

Rugby:

o14
• A – Gimmies 22-7 Volkies
• B – Gimmies 14-20 Volkies

o15
• A – Gimmies 21-10 Volkies
• B – Gimmies 36-12 Volkies

o16
• A – Gimmies 13-13 Volkies
• B – Gimmies 7-5 Volkies

o19
• C – Gimmies 17-11 Volkies
• B – Gimmies 15-12 Volkies

Netbal:

o14A: Gimmies wen 25-16

o14B: Gimmies wen 10-9

o15A: Volkies wen 21-17

o15B: Gimmies wen 18-13

o16A: Gimmies wen 21-19

o16B: Gimmies wen 37-4

o17A: Gimmies wen 38-12

Derdespan: Gimmies wen 22-3

Tweedespan: Gimmies wen 22-6

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button